Namibia, September 2007

Our gyro planes just can’t get enough of the vast blue and orange expanse that is Namibia. We took 8 gyro planes on a 7-day trip to explore the southern parts of Namibia while we indulged in the famous ‘Moose’s Apple Pie’ at Solitaire and experienced the world renowned Namibian hospitality and joviality of our hosts.

Flight time: ??? hours
Distance: ??? km.

The thoroughly spoiled pilots were Theuns & Ninie, Sarel & René,  André & Michelle, ?????.

Flight report by Ninie Eloff: Namibië – Land van Kontraste

Dit is met groot opgewondenheid wat ons bymekaarkom by Kitty Hawk, die oggend van 22 September 2007.  Uiteindelik het dit aangebreek en ons styg vroegdag een na die ander op.  Wat ‘n gesig om 7 Gyro’s in die lug te sien.  Ons eerste stop vir brandstof is Potchefstroom waar die 8ste Gyro by ons aansluit.

Van daar af land ons nog 2 keer vir brandstof as gevolg van ‘n ergerlike kopwind, maar dit maak alles net meer interessant. Ons eerste aand lê ons koppe neer in Upington na ‘n heerlike aandete.

Die volgende oggend klaar ons uit, en na al die papierwerk vlieg ons daar weg – Namibië binne.  Tussen rooi, golwende duine met wuiwende geel gras.  Dit lyk behoorlik soos golwe van die see, een op ‘n ander. Daar breek ons groep op en ontmoet mekaar almal weer by Hammersteyn Lodge.  Nadat elkeen sy draaie gevlieg het is ons dankbaar om weer bymekaar te wees.

Vroeg die volgende oggend – dit was nog skemer buite – staan ons al gereed om ons dag se vliegroete aan te pak.  Vandag is dit “iets anders” verstaan ons wat vir die eerste keer Sossusvlei uit die lug sien.  En dit was so… !  Sandduine in verskillende skakerings van rooi, oranje en geel, net waar jy kyk.  Die kleurkontraste is net te asemrowend om te beskryf – nie eers met ‘n foto nie.  So tussen die duine is daar koelronde kolle tussen die grassies, die sogenaamde feetjiesirkels, iets wat nog nie uitgeklaar is nie – natuurlik baie stories daaroor. Ons is dankbaar vir ‘n betroubare Rotax engine wanneer ons so tussen die uitgesterkte duine vlieg!

Ons koers is eintlik Swakopmund, maar eers word daar by Solitaire geland vir die welbekende “Moose se Appeltert”.  Glo my, dit was elke ekstra vliegmyl die moeite werd!  Die porsie is ruim – ‘n eg Namibiese gewoonte.

By Swakopmund sien ons vir die eerste keer waar die see land ontmoet.  Dis eintlik die enigste wat ons van die kus gesien het.  Daar opgestyg, vlieg ons in ‘n “ander wereld” in – die “Moonlandscape” van Namibië.  As ek nou kon raai, dink ek dis seker die naaste soos dit op die maan sou lyk – ‘n gepaste naam vir die stukkie aarde.

Na ‘n redelike stamperige ritjie agter op ‘n vragmotor, word ons beloon met ‘n groot bederf.  ‘n Tentkamp in die mees asemrowende landskap.  Ons sit aan vir ‘n koninklike ete by witgedekte tafels onder 3 enorme, groot rotse wat ‘n dak oor ons koppe vorm. Orals langs die paadjies brand daar kerse in bruinpapiersakkies.  Dit was nou regtig ‘n sprokies-gesig.

Ons vlieg die volgende dag tot by Johan Storbeck se plaas waar ons op eg Namibiese manier onthaal word met hope kos en gasvryheid.  Ons kuier tot laat in die nag om die kampvuur en besluit amper om daar langer aan te bly – maar dis omdraaityd. Na ‘n groot ontbyt vat ons koers Windhoek toe waar ons by Eros Lughawe van ons Namibiese vriende afskeid neem.

Die terugtog is nooit so lekker soos die gaan nie. Ons slaap by Mariental die tweede laaste aand.  Die middag van die 30ste September kom ons by Kitty Hawk aan.

Wat ‘n wonderlike voorreg om die wonderlikheid van die Skepping uit die lug te kan sien – sonder vlerke en vere.

Ninie Eloff